ALBUMS


GOUE EEUE – toonsettings van Uys Krige se gedigte.

Leon Albert het met pioniersinstink daad by die woord gevoeg om hulde te bring aan die befaamde digter: Uys Krige. Deurdat Krige ‘n 100 jaar terug gebore is in 1910, word fees luisterryk gevier in 2010 met die uitreik van Leon Albert se inspirerende album: GOUE EEUE.

Leon Albert span die seile en komponeer toonsettings van Uys Krige se gedigte wat die luisteraar neem na nuwe wêrelde, ‘n ontdekkingsreis wat die hart roer en siel lig.

Die tydlose lirieke vind hul uiting in ‘n verskeidenheid musikale genres wat die onderskeie gedigte perfek komplimenteer.

So byvoorbeeld, word IN BLYDE VERWAGTING ‘n blues-rock juweel, VERRE BLIK ‘n hartstogtelike volkslied en KAROODORPIE ‘n treffende ballade.

Verdere hoogtepunte sluit in die warm, opwindende EK HET NET LUS en verkwiklike LIED VAN DIE LEMOEN.

Met veertien snitte op die album, staan elke lied volwaardig sy plek vol en wag daar gewis heelwat verrassings op die luisteraar.

Die outentieke waarde van die album vind sy gestalte deur die oorspronklike komposisies en sielvolle vertolking van Leon Albert deur stem, klavier en trekklavier, ondersteun deur sensitiewe perkussie van Charl Cater.

GOUE EEUE is vars, veelsydig en verrassend – ‘n oorspronklike en voortreflike huldeblyk aan die digter Uys Krige. Vir meer inligting, kontak Leon Albert.